TUISBLAD Geskiedenis Groenvlei Lynne's Place Jeffreysbaai Acacia Kontak ons
Aktiwiteite Staproetes Rondom ons Spyskaart/Resepte Toekennings Waar is ons Dorpkaart
               
               
               
               
               
               
               
               
               
               
           

PLAASGESKIEDENIS

               
   
               
   

DIE GESKIEDENIS VAN GROENVLEI

 

Die stil en rustige GROENVLEI van vandag was vroëer bekend as HELHOEK! Die ongewone naam sal aan u duidelik word wanneer u die geskiedenis lees.

Johann se oupa P.J.A (Abie) Van Heerden het GROENVLEI in 1948 by die Grobbelaar gesin gekoop vir £31000. Die plaas was vir 140 jaar in die Grobbelaar besit en ons het nog die oorspronklike Transportaktes wat uit 1837 dateer. Die Grobbelaar-familie begraafplaas is naby die lusernstoor tussen die sipres- en dennebome.

Die laaste eienaar (Koos Grobbelaar) was 'n goeie boer maar alkohol was sy ondergang. Hy en sy vrou Maria, het 4 seuns en 3 dogters gehad en ongelukkig het die seuns alkoholiste geword. Die seuns was almal na bekende generaals vernoem en die oudste, Kruger, het saam met sy ouers op GROENVLEI gewoon. Die tweede seun se bynaam was Wilde Boy (vernoem na die Franse Generaal DE VILLA BOIS) en het op DE TUIN wat later deel van Krugerkraal geword het, gewoon. Die bouvalle van sy huis is nog duidelik te sien op die DE TUIN staproete. Die derde seun, Gilbert, was vernoem na 'n Britse generaal van Eerste Wêreldoorlog-faam en het op MUISHOEK gewoon. Die jongste (Eloff of "Lofty") was vernoem na 'n Generaal Eloff. Hy het nie op GROENVLEI gewoon nie en is in 1987 oorlede te Graaff-Reinet.

Daar was oorgenoeg onderonsies tussen die broers en menigte argument is met die hulp van 'n skietding opgelos. Die Vrederegter was dikwels uitgeroep om die gevegte te beëindig en wonder bo wonder is niemand ooit raakgeskiet nie! Wilde Boy se vrou moes af en toe in selfverdediging 'n skoot bokhael in sy rigting afstuur!

Volgens legende het Kruger se vrou ook in selfverdiging 'n potskoot op hom afgestuur wat sy lewe ietwat verkort het. Forensiese toetse van daardie dae het gevind dat 'n 6.35mm pistool verantwoordelik was maar die saak kon nooit afgehandel word nie aangesien die moordwapen nooit gevind kon word nie. Vyftig jaar later, terwyl die fontein skoongemaak is, is 'n ou 6.35mm Walter Browning in die modder gevind. Laat 'n mens dink nè?

Die grillerigste storie is seker diè van Gilbert wat op sy vrou geskiet het en al skuiling waaraan sy en ou Koos Grobbelaar se enigste kleinseun kon dink, was bo-op 'n windpomptoring waar hulle byna van die koue omgekom het. Die volgende oggend het sy kaalvoet in die ryp na die bure (ene Herklaas Enslin op Enslinsrust) gestap en daar om hulp aangeklop. Mnr. Enslin het die vrou baie jammer gekry en vir haar en haar seuntjie 'n treinkaartjie na die Transvaal gekoop sodat sy kon wegkom van die mal familie af.

Een Sondagmiddag in 1995 het daar 'n man en sy vrou op die werf stilgehou en hulself voorgestel as mnr. en mev. Koos Grobbelaar. Sy ma het hom skynbaar nie veel meer vertel as dat GROENVLEI hul ou familieplaas was nie en ons het dit goed gedink dat dit miskien beter sou wees as ons ook nie uitbrei oor die Grobbelaars nie

 

Koos Grobbelaar het sy voorraad drank gereeld met die Spoorwegbus gekry wat in daardie dae 2 keer per week vanaf Graaff-Reinet reg oor die werf geloop het oppad na Richmond toe. Die seuns het dan dikwels die bus gekaap om hul deel van die drank in die hande te kry. Koos Grobbelaar is in 1946 oorlede en sy testament het bepaal dat die plaas na sy vrou se dood verkoop moes word. Maria Grobbelaar is in 1948 oorlede en tot vandag toe het haar graf geen kopsteen nie. Alhowel sy sieklik was ten tyde van haar man se dood het sy min simpatie van haar alkoholistiese seuns ontvang. Hulle het haar gereeld gevra wanneer sy dan nou van plan was om te sterf sodat die plaas verkoop kan word en hulle hul hande op die opbrengs kon lê.

U moet teen hierdie tyd saamstem dat GROENVLEI beslis die hoofstad van Helhoek moes wees!

Soos te verstane was GROENVLEI baie verwaarloos teen die tyd dat Abie van Heerden dit gekoop het. Ten spyte van die feit dat hy reeds 53 jaar oud was, het hy met mening ingeklim en deur baie harde werk dit reggekry om die plaas oor die volgende 10 jaar byna te herbou. As 'n mens die groot lugfoto in die gastehuis bestudeer kan die vrugte op al die harde werk duidelik gesien word. Ten tyde van die koop van GROENVLEI deur Abie van Heerden was die gedeelte bekend as DE TUIN nog nie ingesluit nie alhoewel dit deel was van die oorspronklike Grobbelaar rykdom. Op die 13de April 1984 het Johann Krugerskraal gekoop wat DE TUIN ingesluit het en so uiteindelik weer die hele oorspronklike GROENVLEI 'n eenheid kan maak.

Die plaas DOORNBERG, net buite Nieu-Bethesda, is eintlik die ou Van Heerden-familieplaas en alhoewel Abie en sy broer Peetsie baie goeie sakevenote was, het hulle besef dat dit nie van hulle kinders kan verwag word nie. Abie van Heerden het toe besluit on GROENVLEI te koop. A.g.v. ou rugbybeserings het Abie moeilik gestap en het staatgemaak op sy kierie maar tog het hy voor die plaasveling vir ure aanneen en baie myle gestap om die plaas goed te verken. Die plaasgedeelte bekend as WITKOP was oorspronklik deel van DOORNBERG maar is by GROENVLEI gevoeg toe die broers opgedeel het.

Abie en Molly (nee Fichardt) van Heerden het 3 kinders gehad, naamlik Joey (die oudste) en moeder van Johann, 'n seun Brahm (oorlede aan kanker in sy vroëe dertigs) en Edna (die jongste) wat oorlede is in 'n motorongeluk in haar vroëe twintigs). Abie is in 1971 oorlede en na sy dood is die plaas nagelaat aan sy enigste oorlewende kind (Joey). Molly van Heerden, die weduwee van Abie, het meer as haar deel van hartseer gehad aangesien 6 van haar 8 broers en susters haar vooruitgegaan het. Sy het ook 2 van haar kinders en haar man verloor en is in 1995 op 87-jarige ouderdom oorlede.

Johann het by sy ouers op die Minnaar familieplaas, Slangfontein, in die Loxton distrik groot geword. Sy vader woon steeds daar, maar sy moeder is in Sept 2006 oorlede. Ons het 'n gedenknaald vir haar in die begrafplaas opgerig, waar al die Van Heerdens begrawe is.  Slangfontein is sedert 1864 die hoofkwartier van die Minnaargesin. Ons seun Johnny is die vierde Johannes Jacobus Minnaar en is vernoem na sy oupa, Johnny. Glo dit as u wil maar klein Johnny is op sy oupa se se verjaarsdag gebore, naamlik 17 September. Gedurende 1983 het Johann permanent na GROENVLEI verhuis en is in 1986 getroud met Lynne, oudste dogter van Theo en Nancy Schneider van die Somertset-Oos-distrik.

Na ons huwelik het ons besluit om te probeer klaarkom sonder die hulp van 'n plaasbestuurder. Die huis waarin u nou tuisgaan was juis die bestuurder se huis en het in onbruik gestaan vir 'n paar jaar toe Lynne met die idee voor 'n dag gekom het om dit in 'n gastehuis te omskep. Johann was nie baie opgewonde oor sy vrou se nuwe onderneming nie maar het haar nogtans heelhartig ondersteun. Gedurende 1989 het ons ons eerste besoekers gehad en wat 'n geskarrel om huisraad, beddegoed en eetgerei heen en weer te karwei elke keer as ons 'n bespreking gekry het.

Verbouings en veranderings is feitlik deurentyd gedoen en sal hopelik eendag tot 'n einde kom. Aan die einde van 1992 het ons Eskom krag gekry en dit het 'n heel nuwe lewe vir ons begin. Stadig maar seker groei ons gastehuis-familie danksy verdraagsame gaste en hul ewe gewaardeerde aanbevelings.

Soos te verstane is die lewe sonder die hulp van 'n plaasbestuurder dikwels koorsagtig en ons wens is dat u as besoeker die vrede en stilte van 'n Karooplaas kan ondervind en geniet (iets wat die boer en sy vrou nie altyd kan doen nie)U moet onthou dat Abie van Heerden die hulp van sy seun en plaasbestuurder gehad het op GROENVLEI alleen waar ons nou twee keer soveel weiveld en 'n gastehuis het. Ons vertrou dat u dit nie eers sal agterkom nie.

Terloops, die familiewapen op die skryfbehoeftes, ingangshek, muurpapier, ens. is dié van die Van Heerden-familie. Dit is ons manier van hulde bring aan die familie en ook eerbetoon vir al hul inspanning om GROENVLEI so 'n mooi plaas te maak.

Geniet u besoek op GROENVLEI.
JOHANN en LYNNE MINNAAR

               
   
               
Welcome to our home! - Welkom by ons tuiste!          Welcome to our home! - Welkom by ons tuiste!          Welcome to our home! - Welkom by ons tuiste!          Welcome to our home! - Welkom by ons tuiste!          Welcome to our home! - Welkom by ons tuiste!          Welcome to our home! - Welkom by ons tuiste!          Welcome to our home! - Welkom by ons tuiste!

COPYRIGHT/KOPIEREG: GROENVLEI PLAAS GASTEHUIS 2007

 

Designed and maintained by DesignDynamics
(multi-media@designdynamics.co.za / +27 72 180 4966)
 
 

This website is best viewed in resolution of 1024 X 768

THIS WEBSITE WAS LAST UPDATED ON JUNE 20, 2011

 

 

Please note that our HIT COUNTER is only active as from November 1, 2007

Let asb daarop dat ons bladsyteller slegs aktief is vanaf die eerste November 2007